Kores die Grote | |
---|---|
Koning van Āryāvarta,[1][2] Koning van Persië, Koning van Anshan, Koning van Medië, Koning van Babilon, Koning van Sumer en Akkad, Koning van die vier hoeke van die Wêreld[3] | |
Kores die Grote
| |
Regeer | 559 v.C. – 530 v.C. |
Gebore | c. 600 v.C. of 576 v.C.; Anshan, Persië |
Oorlede | Desember 530 v.C. |
Begrawe | Pasargadai |
Voorganger | Kambuses I |
Opvolger | Kambuses II |
Vader | Kambuses I |
Moeder | Mandane van Medië of Argoste van Persië |
Eggenoot | Kassandane van Persië |
Kinders | Kambuses II Bardiya Artystone Atossa |
Kores die Grote (Oud-Persies: 𐎤𐎢𐎽𐎢𐏁,[4] IFA: [kʰuːrʰuʃ], Kūruš,[5] Persies: کوروش بزرگ/کوروش کبیر, Kūroš-é-Bozorg) (c. 600 v.C. of 576 v.C. – Desember[6][7] 530 v.C.), ook bekend as Kores II of Kores van Persië,[8] was die eerste Zoroastriese Persiese keiser. Hy was die stigter van die Persiese Ryk onder die Achaemenidiese dinastie.[9] Sy naam word ook Cirus of Sirus gespel.
Dit was onder sy heerskappy dat die ryk alle voorheen beskaafde state van die antieke Nabye Ooste omsluit het,[9] reusagtig uitgebrei en uiteindelik die oorgrote deel van Suidwes-Asië en heelwat van Sentraal-Asië, nl. van Egipte en die Hellespont in die Weste tot die Indusrivier in die ooste verower het, ten einde die grootste ryk te vestig wat die wêreld destyds nog gesien het.[10]
Die regering van Kores het tussen 29 en 30 jaar geduur. Kores het sy ryk gebou deur eers die Mediese Ryk te beveg en verslaan, daarna die Lidiese en Nieu-Babiloniese Ryk. Voor of ná sy inval van Babilon, het hy 'n veldtog gelei na Sentraal-Asië, wat uitgeloop het op groot veldtogte wat "elke nasie sonder uitsondering onderwerp het."[11] Kores het nie Egipte betree nie, aangesien hy gesterf het in 'n veldslag teen die Massagete langs die Sirdarja in Desember 530 v.C..[12][13] Hy is opgevolg deur sy seun, Kambuses II, wat geslaag het om tot die ryk by te voeg deur Egipte, Nubië en Kyrenaika tydens sy kort regering te verower.
As 'n militêre leier was Kores se nalatenskap die kuns van leierskap en besluitneming, en hy het sy sukses toegeskryf aan "Veelsydigheid in raadsbesluite, eenheid in aanvoering."[14] Kores die Grote het die sedes en gelowe van die lande wat hy verslaan het, gerespekteer.[15] Daar word beweer die rol van die Achaemenidiese Ryk, soos deur Kores gestig, was geleë in die besonder suksesvolle model vir gesentraliseerde administrasie en die vestiging van 'n regering wat gestreef het na die opheffing en voordeel van sy onderdane.[9] Die administrasie van die ryk deur satrape, en die kernbeginsel van 'n regeringsetel gevestig te Pasargadai was inderdaad die werk van Kores.[16] Benewens sy eie nasie, Iran, blyk Kores se nalatenskap ook by die Joodse geloof (vanweë sy Edik van Restaurasie), menseregte, politiek, en militêre strategie, asook in die Oosterse en Westerse beskawing.
{{cite book}}
: Cite has empty unknown parameter: |chapterurl=
(hulp)